Jubileum 2010 : Een-Miljoen Bybles Dankseggingsprojek.”

February 9th, 2010

Jubileum “Een-Miljoen Bybels Dankseggingsprojek.”

Sending Sonder Grense loods, ter viering van vyftig jaar in die bediening, die “Jubileum Dankseggingsprojek”. Hierdie opwindende projek het nou begin. Ons beplan om die bestaande Veldlande met Een Miljoen Bybels vir alle ouderdomsgroepe te oorstroom.

Baie mense glo dat daar nie meer ʼn groot behoefte of dringendheid is om Bybels in Oos-Europa en China te versprei nie aangesien dit tog nou moontlik is om Bybels in hierdie lande te druk. Alhoewel Bybels beskikbaar is, het baie mense in ons hoof teikengroepe – die armes, verlatenes, verwaarloosdes en eensames – net nie toegang tot, of geld om hulle eie Bybel aan te skaf nie.

Ons is baie opgewonde om weereens hierdie nodige en lewegewende projek van Bybelverspreiding aan diegene wat waarlik God se Woord nodig het, te loots. Die oproep om Een-Miljoen Bybels te versprei neem ons weer terug na ons wortels-, ons fondasie om uitgehongerde siele se honger met die Woord van God te stil. Dit was ons Here Jesus self wat hierdie ewige waarheid ten opsigte van die mens verdedig en uitgewys het: dat “die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die Here uitgaan.” (Deuteronomium 8:3).

Verder het God lank terug met die profeet, Jesaja, gepraat en gesê dat Sy Woord, wat uit Sy mond uitkom “..nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur” (Jesaja 55:11). Dit was die visie waarop ons Sending gegrond is, en waarop ons gaan voortbou, vir hierdie en die toekomstige generasies wat die Here ons geroep het om te dien.

Wil u dit dalk oorweeg om betrokke te raak en miskien ʼn paar Bybels te borg?

Ons kan ʼn Bybel druk en dit plaas vir slegs R50.00.

Kontak Ron Lindeman 083 3906 858


Hoe die Prena-gesin hul probleme die hoof bied …

November 24th, 2009

Die lewens van die Prena-gesin – ‘n Albaniese gesin op ons Gesin-tot-Gesin-program – was totale doolhof en hulle het dikwels gevoel dat daar hoegenaamd geen sin in die lewe is nie. Sedert Christene van ‘n plaaslike gemeente egter op ‘n daaglikse basis na hulle begin uitreik het, het beide Besnik en sy vrou, Sheqere, hulleself oopgestel vir die Woord van God. Dit het hoop, vreugde en nuwe betekenis aan hulle lewens gegee.  Besnik het in ‘n onlangse onderhoud met SSG se koördineerder gesê, “Alhoewel ek ‘n Moslem agtergrond het, het ek nooit die rituele van die Moslemgeloof beoefen nie.” Sheqere is ‘n bietjie meer van ‘n introvert en, soos sy dit stel, “ek was nooit in die skool nie en kan nie lees nie.”   

Hulle seun, Sidoreli, woon gereeld die kinderprogramme by die plaaslike gemeente by. Hy het onlangs die boek, 101 Stories uit die Bybel, daar gekry. “Ek hou veral van die storie van Dawid, wat vir Goliat oorwin het,” sê Sidoreli, “ maar eintlik hou ek van al die Bybelstories. Dit was die eerste keer wat ek hulle gelees het,” het hy entoesiasties gesê. Dit was baie bemoedigend toe Valdet, die oudste seun in die familie, vir ‘n Bybel gevra het. Hy lees nou Bybelstories vir Sidoreli. Dis iets wat hulle albei gereeld geniet. “Ek het deur die lyne van die Bybel die vreugde ontdek om te leer hoekom die Bybel die grootste boek is wat die wêreld nog ooit geken het!” het Valdet met ‘n oop gemoed gesê. 

Deur middel van gereelde besoeke en sistematiese berading het SSG aan hulle die geleentheid gegee om met die Bybel kennis te maak en so die Heilige Gees toe te laat om in hulle harte te spreek.  “Die verandering in hierdie mense se lewens is ‘n wonderwerk!” sê Pastoor Gorrea, een van die leiers van die plaaslike gemeente in Sukth. Hy gaan voort, “oor die algemeen is mense in plattelandse gebiede, as gevolg van hulle lae opleidingspeil en beperkte vermoëns, konserwatief en effens fanaties; dit is vir hulle onmoontlik om die verskil tussen geloof en godsdiens raak te sien – dit is dus ‘n harde, geestelike geveg om hulle vir Christus te bereik.” “As gevolg van ons gereelde besoeke aan hierdie gesin, het daar baie bemoedigende veranderinge plaasgevind. Voorheen was Besnik altyd in die koffiewinkels te sien, maar nou is hy selde daar en spandeer hy meer tyd met sy gesin. Die afgelope tyd het ons gesien dat hy saam met sy kinders in die tuin werk; die huis skoonmaak en ander werkies doen – dit is nie iets wat ons al vantevore opgelet het nie. Wanneer ons die gesin besoek, verwelkom hulle ons hartlik en luister hulle aandagtig wanneer ons uit God se Woord leer.”  Die plaaslike gemeente in Sukth bemoedig ook die gesin. Hulle bied nie net geestelike ondersteuning nie maar ook materiële bystand – om hulle te help om hulle menigvuldige probleme te oorkom en in sommige van hulle mees dringende behoeftes te voldoen. 

Sheqere het dit opreg uitgedruk, “Sending Sonder Grense en die gelowiges van die kerk het gereelde besoekers geword. Ek is so bly. Voorheen was ons alleen en het ons verlate gevoel. Niemand het hierlangs gekom om te kyk hoe dit met ons gaan nie. Baie dankie dat julle hier na ons toe kom sodat ons God se hulp deur julle kan ontvang,” het sy gesê terwyl sy besig was om op ‘n baie ou, rokerige stoof te kook. “Ons ervaar dat ons lewens deur Sy lig verhelder word. Ons weet nou dat Jesus groter as ons omstandighede is en Sy liefde groter as ons lyding en probleme.”  God gaan ook voort om onder ander mense in hierdie dorpie te werk terwyl hulle leer dat God die wêreld so liefgehad het, “dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan beërwe” (Johannes 3:16). Daar het ‘n groot verandering in hulle manier van dink gekom en ons vertrou dat dit sal voortgaan en omskakel in ‘n wonderlike geloof binne in hulle.  


Die stryd om oorlewing in Bosnia Herzegovina …

November 24th, 2009

 

 

In Bosnië Herzegowina groei die aantal mense wat finansieel sukkel daagliks. Baie fabrieke is gesluit en honderde werkers het hulle werk verloor. Die tipe mense wat na ons voedingsentrums kom vir ? maaltyd het ook verander. Vantevore was dit verlatenes wat gekom het; baie was vlugtelinge of ontwortelde mense. Nou is baie van die mense wat kom vir ? ete, mense wat voorheen werk gehad het en wat nou nie meer vir hulle gesinne kan sorg nie.   

Hierdie jaar is ons plan dat die veldtog met behulp van die plaaslike gemeentes so veel as moontlik mense moet seën en bystaan. Hierdie kosbare pakkies gaan oor die hele Bosnië Herzegowina versprei word en selfs afgeleë dorpies gaan deur vrywilligers van kerke bereik word. Die veldtog gaan armes, siekes, en gesinne en individue wat in moeilike omstandighede verkeer, bereik… asook instansies wat vir sulke mense sorg.  

Vlugtelinge in kampe wat deur die Sending ondersteun word, gaan ook die vreugde en blydskap wat hierdie pakkies bring, ervaar. Tydens ? onlangse personeelbesoek aan die Zenica Gemeenskapsentrum is mense gevra om kommentaar te lewer oor ons OKL-veldtog. Tipiese antwoorde was: “Ons is so bly om te weet dat daar mense is wat vir ons omgee en meegevoel met ons het… dit is so ? seën om sulke mense in ons lewens te hê wat ons in hierdie moeilike tye ondersteun. Wanneer ons die kos eet, dink ons daaraan as ? gawe wat van God kom; ons weet dat Hy diegene sal seën wat ons in staat gestel het om ? ordentlike ete te ontvang.” 

Ds. Enver is die pastoor van die Evangeliese Kerk van Zenica. Op ? versoek vir sy kommentaar oor die veldtog en hoe dit die gemeenskap raak, het hy gesê, “Die meeste van ons lidmate is werkloos. Hierdie bystand beteken baie vir hulle. My roeping is om hulle met die Woord van God te bemoedig, maar ander sorg en bystand, soos hierdie pakkies, bemoedig hulle werklik ook. Ons sien elke jaar uit na hierdie veldtog, tydens hierdie spesiale tyd van die jaar wanneer ons die geboorte van ons Redder vier. Ons hoop en bid dat OKL 2009 verligting en hoop vir baie gaan bring. Baie dankie aan al die mense wat bydra tot hierdie spesiale veldtog, maar bowenal is ons dankbaar teenoor God, wat vir Sy diensknegte voorsien en sorg.” 

Die sorg wat verskaf word aan verlate bejaardes; gesinne wat uit die afgeleë bergagtige gebiede in die noorde van die land kom en gestremde kinders wat deur plaaslike gemeentes aan ons voorgestel word, skep ? warm en positiewe gevoel van liefde en hoop. Mense wat pakkies ontvang vertel ons dikwels dat die alles-omvattende Christenliefde wat hulle deur ons bediening ervaar, hulle aanmoedig om getrou na God te soek en om gereeld Bybelse beginsels in hulle daaglikse lewens toe te pas. 

                                                                      


Volodymyr deel sy Somerkamp-ondervinding met ons …

November 24th, 2009

 

“Dit is beter om by die kamp te bly as om huis toe te gaan.”  Volodymyr Artyuh - 12 jaar. 

Die somer is ? wonderlike tyd vir pret by SSG se Christen Somerkampe. Hierdie jaar het meer as 4000 weeskinders en kinders uit brandarm gesinne die geleentheid gehad om ? kort vakansie in ? pragtige, natuurlike omgewing te geniet, danksy ons borge en vrygewige donateurs. Hierdie kampe bring nie net vreugde, tevredenheid en pret nie, maar help ook deur die kinders se lewens geestelik, emosioneel en fisies te verander. Dit is ? plek waar jong seuns en dogters kan wegkom van die daaglikse probleme wat hulle in die kinderhuis of in hulle gesinne ondervind en waar hulle hulle ongelukkigheid vir ? rukkie kan vergeet. 

Volodymyr is een van die kinders wat dit nodig gehad het om van sy daaglikse stryd weg te kom. Hy kom uit ? gesin waar die pa verslaaf is aan alkohol en nie sorg of omgee vir sy vrou en kinders nie. Wanneer Volodymyr en sy vyf boeties en sussies weet hulle pa gedrink het, kruip hulle of weg, of gaan hulle na hulle ouma se huis toe. “Dit was nie altyd so nie,” sê Volodymyr. “Aan die begin het my pa gedrink maar nie baie nie. Later het hy meer en meer begin drink. Naderhand het dit al hoe meer algemeen geraak om hom dronk te sien.” Volodymyr se ma, Olga, is ? Christen en gaan gereeld kerk toe – sy moedig haar kinders altyd aan om saam met haar te gaan.  

Hierdie jaar was ? buitengewoon vreugdevolle jaar vir Volodymyr; een van sy drome is bewaarheid. Hy het vir die eerste keer ? Christen Somerkamp bygewoon. Hy het homself gate uit geniet. Tien dae weg van die huis af met stimulerende speletjies, gawe helpers wat omgee en heerlike kos. Die “Berizka”-kamp in Alexandria, Oekraïne, is in ? pragtige woud geleë. Daar is ? groot sokkerveld, ? trampolien, ? rondomtalie en ander interessante goed om kinders mee besig te hou gedurende die dag. “Dit is baie lekkerder hier as by die huis,” sê Volodymyr. “Ek het nege nuwe maats gemaak en ons het dit baie geniet om saam te speel in die dag. Ek het ook baie van die trampolien gehou. Ek sou vir ure aaneen gespring het as die helpers my net wou toelaat.”  

“Ek het die Bybellesse ook geniet,” gaan hy voort. “Hierdie lesse het my geleer dat ek vir my pa moet lief wees ten spyte van sy gedrinkery en verwaarlosing. Jesus het ons almal lief en vergewe ons sondes. Ek het begin om vir my pa te bid en hoop om binnekort ? paar veranderinge in sy lewe te sien.” Volodymyr se kampleiers kon duidelik die verskil sien wat Jesus in sy lewe gemaak het; sy droom is nou om eendag ? predikant te word.? Gebeurtenis ses jaar gelede het Volodya vernietig. Sy jonger sussie het per ongeluk ? stapel hooi aan die brand gesteek terwyl sy met vuurhoutjies gespeel het. Die klein dogtertjie het doodgebrand. Na sy suster se dood het Volodya begin om sy vriende seer te maak en aanstoot te gee. Hy sou ? bakleiery begin sonder enige duidelike rede en mense het hom begin uitken aan sy swak gedrag.  Sy Somerkamp het egter radikale veranderinge in sy lewe teweeggebring. Die seun verstaan nou dat sulke gedrag onaanvaarbaar is en dat hy as Christen ? gelykmatige en gehoorsame temperament moet hê. “Ek het besluit om ander kinders te waardeer en God het my nou ? klomp ware vriende gegee,” sê Volodya. Hy het gevra om weer oorweeg te word as ? kandidaat vir volgende jaar se Somerkamp waar hy hoop om weer sy vriende raak te loop.  

                 


Sending Sonder Grense se veldlande het ʼn lang geskiedenis van kinderbediening …

May 25th, 2009

Een van die bedieninge wat die kinders en kerke tydsbesteding die meeste waardeer, is die Somerkampe. Ons sien steeds die groot impak wat tyd in ʼn Christelike atmosfeer op die kinders se lewens het. Hierdie jaarlikse geleentheid versterk ook die langtermyn bediening van die plaaslike kerk-werkers onder die kinders. Ons werk in noue vennootskap met plaaslike gemeentes in Albanië, Bulgarye, Roemenië, Moldawië, Bosnië en Oekraïne om sosiaal agtergeblewene kinders uit Christen gesinne en hulle vriende te bereik. As Christene besef ons die belangrikheid van kinderbediening en om hulle in God se weë te onderrig. Die nalatenskap van ʼn kommunistiese verlede is merendeels ʼn goddelose generasie. ʼn Tydperk van geestelike honger is gevolg deur die vernietigende invloed van post-kommunistiese krisisse. Dit alles het hierdie lande in ʼn toestand van morele verwarring gedompel. Aborsie, egskeiding en kindermisdaad; die gebrek aan sterk gesinseenhede, geestelike leiding en morele opvoeding, is alles dinge wat mense in die gesig moet staar. Hierdie faktore gaan die toekoms bepaal tensy ferm, positiewe aksie geneem word. Deur Somerkampe aan te bied, help Sending Sonder Grense om die kinders materiële, geestelike, emosionele en opvoedkundige te help. Sending Sonder Grense borg al vir baie jare Christen Somerkampe wat in samewerking met plaaslike gemeentes georganiseer word. In 2009 werk ons weer saam met kerke en vrywilligers en beplan kampe vir meer as 3 300 kinders en tieners uit kinderhuise, en ander kampe vir kinders met ʼn moeilike sosiale agtergrond. Ons doelwitte bly onveranderd: om God se liefde aan jong mense te openbaar en Christus Jesus aan hulle bekend te stel. Deur gepaste ontspanningsfasiliteite te voorsien, neem ons hierdie jongmense uit hulle depressiewe omgewing in ʼn oop en vriendelike atmosfeer waar hulle aangemoedig word om uiting aan hull persoonlikhede te gee en nuwe kennis en vaardighede te ontwikkel. Die kampprogram is gebalanseerd en buigsaam. Daar is ʼn verskeidenheid van aktiwiteit vir die kinders om aan deel te neem. Die kinders leer Bybelse waarhede en Christenwaardes deur interaktiewe Bybellesse. Hier word onderrig en pret saam gebruik om die kinders te help om die mees belangrike beginsels te onthou. Verskeie aktiwiteite word beplan volgens die ouderdomme van die deelnemers. Handwerk en speletjies versterk die lering verder en dien as ʼn agtergrond om ware vriendskappe onder die kinders te bou. Die personeel en vrywilligers omring die kinders met liefde en sorg en straal ‘n pragtige Christengesindheid uit.Bid asseblief vir die Somerkamp-kinders asook vir ons personeel en vrywilligers.


Die Dorpie, Victoria is 28km van …

May 25th, 2009

“Net soos die hande van die skilder gekleur word met die verf waarmee hy werk, word die siel van ʼn mens gevul met die kleur van die sosiale omgewing waarin hy woon” (E. Stanley Jones). Die dorpie, Victoria, is 28 km van die groter stad Lasi, naby die Moldawiese grens. Daar is ʼn laerskool vir graad 1 – 8 en ʼn skool vir kleremakery en skrynwerkery. Die meeste inwoners is by een van die twee kerke in die dorp geaffilieer; die een is ʼn tradisionele gemeente en die ander ʼn evangeliese een. 

Ons eerste kontak met hierdie gemeenskap was deur ons Operasie Winterredding en Operasie Kersliefde-programme. Ons SSG veldwerkers asook besoekende borge was geraak deur die skokkende omstandighede waaronder die inwoners geleef het.  Die dorpie het ʼn elektriese aansluiting en het onlangs ook ʼn water aansluiting gekry. Die aansluitings werk egter nog nie aangesien hulle nog fondse nodig het om die aansluitings te voltooi. Die enigste bron vir verhitting in hierdie gemeenskap is dus hout… wat ook gebruik word vir kosmaak. Nie al die gesinne het toegang tot riolering nie vir die eenvoudige rede dat hulle nie die installasiekoste of maandelikse koste kan bekostig nie. 

Baie van die inwoners het ernstige materiële, opvoedkundige en emosionele probleme. Dit is duidelik sigbaar in hulle gebrek aan belangstelling in opvoeding, alkoholisme, werkloosheid en gebrek aan respek vir algemeen aanvaarbare morele standaarde. Alhoewel al die inwoners met hulle basiese daaglikse behoeftes sukkel, is daar ʼn groot meerderheid wie se enigste inkomste die kindertoelaag van 40 lei per kind is… minder as R140.00 per maand. Landbou en tuinmaak is ʼn bron van inkomste vir ʼn gesin. Hulle bewerk die klein stukkies tuin rondom hulle huise met primitiewe gereedskap maar die groente wat hulle pluk, meestal aartappels, is so min dat dit nie genoeg is om een gesin te onderhou nie.   Behalwe vir die manier waarop die gebrek aan moderne tegnologie hulle lewens raak, word landbou nog moeiliker gemaak deur die versengende hitte in die somers en die baie koue winters wat met swaar sneeu gepaardgaan. 

Die plaaslike gemeente en owerhede is gretig om S.S.G. in Victoria te kry. Die plaaslike Evangeliese kerk is oop vir evangelisasie projekte, kinderaktiwiteite, ens. en die predikant gewillig om saam met mense van ander denominasies te werk.  Die burgermeester van Victoria het ook aangedui dat hy ingryping deur SSG sal verwelkom en het alreeds ʼn lys van die 206 mees kwesbare gesinne wat op die oomblik op minimale welsynstoelae oorleef.  

Die volgende plan van aksie in reaksie op die pleidooie van die kerk en munisipale leiers is dus ontwikkel: Geestelik: Evangelisasie veldtogte saam met die plaaslike gemeente wat deur-tot-deur besoeke insluit asook byeenkomste vir verskillende teikengroepe – kinders, vrouens, bejaardes, ens. 

Opvoedkundig: Spesiale Projekte om die opvoedingsproses te versterk – skoene en klere vir kinders wat tot 10 km moet loop om by die skool te kom; skooltasse en boeke; naskoolse klasse en beurse. Emosioneel: Leer die volwassenes die belangrikheid om morele waardes te aanvaar en te respekteer; skep gebedsondersteuning vir gesinne waar onderhewigaan geweld is; aandag aan enkelmoeders wie se mans die gesin in die steek gelaat het, ens. 

Materieel: Herstelwerk aan die pondokkies waarin baie bly; ordentlike meubels; en die verskaffing van plaasdiere, landbou gereedskap en hout vir vuurmaakhout.  Bid asseblief vir ons moontlike betrokkenheid in hierdie dorpie. Baie gaan afhang van addisionele finansiering om die projek van die grond af te kry!                                                                                                                                                                              


Het u al ooit gewonder …

May 25th, 2009

Het u al ooit gewonder op watter manier u borgskap ‘n verskil in die lewe van ‘n geborgde kind in Oekraiene kan maak?               


     

… met u maandelikse bydrae van R160.00 p.m. maak dit vir ons moontlik om die kinders in kinderhuise op die volgender maniere te bedien:    Materieel  -  Gesondheid en Voeding   Christen Bediening   Emosionele Ondersteuning  – Bybelkorrespondensie-kursus   Dringende Behoeftes Elkeen van hierdie projekte dek die kinders se basiese geestelike, opvoedkundige, emosionele en materiële behoeftes (GOEM). Ons koördineerders hou deur die jaar toesig oor die projekte:  Gesondheid en Voeding: Kos:  Die subsidie wat kinderhuise van die regering vir kos ontvang, is heeltemal onvoldoende. Die KRI-program voorsien aanvullende items soos blikkies vleis, melkpoeier, babakos, rys, groente, meel, suiker, pasta en sopmengsels. Higiëniese items:  Daar is ʼn groot behoefte aan toiletware en skoonmaakmiddele in hierdie kinderhuise. Items soos reinigers, ontsmetmiddels, tandeborsels, tandepasta, seep, sjampoe en sanitêre doekies word deur die KRI-program versprei. Medisyne:  Koördineerders neem ʼn verskeidenheid van medisyne saam met hulle wanneer hulle maandeliks die kinderhuise besoek. Dit is noodsaaklik in die behandeling van ingewandswurms en infeksies … ons verskaf ook multivitamiene.  Brille:  Brille word verniet verskaf waar benodig aan alle kinders wat in K.R.I. geborgde Kinderhuise bly. Klere:  Nuwe en gebruikte klere en skoene word aan kinders verskaf wanneer dit moontlik is. Christelike Bediening: Kinderbediening in KRI-kinderhuise en Christelike Insetklasse:  Christelike Inset-koördineerders werk saam met plaaslike gemeentes om te verseker dat daar Christelike lering in al die kinderhuise is.  Vrywilligers van plaaslike gemeentes besoek kinderhuise op ʼn gereelde basis om vriende te maak met die kinders en Bybelse waarhede asook Christelike liedere met hulle te deel. Hierdie aktiwiteite word beskikbaar gemaak aan alle kinders wat kies om daaraan deel te neem.  Bybelverspreiding:  Kinderbybels word aan kinders tussen die ouderdomme van 7 en 12 jaar gebied, en gewone Bybels aan kinders tussen die ouderdomme van 12 en 20 jaar. Emosionele Ondersteuning: Besoeke:  Alle KRI-kinderhuise word gereeld deur die plaaslike KRI-koördineerders besoek. In hierdie tyd besoek die KRI koördineerder die personeel asook die kinders. Basiese berading en emosionele ondersteuning word aan die kinders gebied.  Verjaarsdagpartytjies:  Verjaarsdagpartytjies word vir die kinders in die kinderhuise beplan. Hierdie partytjies word deur die kinderhuis-direkteur en die KRI-koördineerder gereel. Spesiale lekkernye soos koek, kolwyntjies of lekkergoed word aan die kinders gegee as deel van die partytjie. Spesiale aktiwiteite word ook beplan. As dit moontlik is, kry die verjaardagkind ʼn spesiale geskenk. Kersfees en Paasfees:  Kers- en Paafeesvieringe word beplan in samewerking met die kinderhuis-direkteure, koördineerders en personeel. Hier word kinders geleer van die betekenis van Kersfees en Paasfees. Hierdie vieringe is ʼn positiewe ondervinding vir die kinders. Bybelkorrespondensie-Kursusse: Alle geborgde KRI-kinders kry die geleentheid om deel te neem aan ʼn Bybelkorrespondensie-kursus. Ons het huidiglik meer as 7000 kinders wat op hierdie kursusse ingeskryf is.  Dringende Behoeftes: Verskillende KRI-kinderhuise het verskillende dringende behoeftes waarop ons reageer, hetsy deur middel van ʼn Spesiale Projek, Korporatiewe-skenkings of deur fondse wat spesifiek geoormerk is vir dringende behoeftes.


Bejaardesorg vereis geduld …

May 25th, 2009

Bejaardesorg vereis geduld, goedheid en harde werk… veral wanneer ‘n mens geestelike, emosionele en materiële ondersteuning verskaf. Bejaardes raak anstig as hulle nie meer vir hulleself kan sorg nie. Hulle is nie so bekommerd daaroor om dood te gaan nie, maar eerder oor hulle onvermoë om dinge te doen - hulle bekommer hulle ook oor eensaamheid.  Twee van ons Oekraïniese koördineerders, Volodymyr en Yulia, het onlangs die 81-jarige Lidia D besoek. “Toe ons by die huis inloop, het sy uitgeroep, ‘O, ek is so bly julle is hier. Sal julle asseblief vandag vir my sing?’ Sy was so opgewonde oor ons besoek dat sy haar warm maaltyd opsy geskuif het en met ons begin gesels het.”  

Lidia woon in ‘n klein huisie in Sarny. Sy het as ‘n verpleegster by ‘n plaaslike kliniek gewerk. Sy het ‘n getroude seun wat in Zdolbuniv woon. Dit is ‘n stad wat 115 km van Sarny geleë is. Hy sien egter nie kans om verantwoordelikheid vir sy bejaarde ma te aanvaar nie en, om die waarheid te sê, sien hy haar selde.  Lidia ly aan Parkinson se siekte en vind dit al hoe moeiliker om haar arms en bene te beweeg. Sy het nou meer as ooit vantevore emosionele en geestelike ondersteuning nodig. Sy het nodig om te glo dat iemand haar regtig lief het en vir haar omgee. Volodymyr en Yulia het aan Lidia se versoek voldoen en haar verbly deur Christelike liedjies vir haar te sing. 

“Ek werk nou al vier jaar lank met bejaardes,” vertel Volodymyr. “Daar is baie oumas en oupas in Sarny wat alleen bly en wat eensaam en teleurgesteld is. Hulle het alle hoop verloor. Ek het agtergekom dat hulle iemand nodig het om mee te praat, om ‘n bemoedigende woord te hoor en om opgebeur te word.” Emosionele, geestelike en materiële ondersteuning van Sending Sonder Grense help hierdie bejaardes om Jesus Christus se vreugde en liefde te ervaar. Elke senior burger het sy of haar eie probleme. Sommige kan nie hulle familie vergewe nie. Ander is kwaad vir hulle kinders en sommige is ontnugter deur die lewe. “Ek probeer alles in my vermoë om hulle te bemoedig en sê vir hulle dat dit beter is om te vergewe; om dankbaar te wees en vrede te maak met hulle kinders of familie. Dit is baie belangrik vir ons om naby bejaardes te wees. Ons gaan ook eendag senior burgers wees en wie weet watse probleme ons in die gesig gaan staar. Ons liefde en goedheid kan baie siele genees en deur ons kan God hulle harte verander,” het Vologymyr, die koordineerder afgesluit. 


Ons Voorsien die Visstok …

January 28th, 2009

Gesin-tot-Gesin bied wonderlike, nuwe geleenthede aan behoeftige gesinne. Ons doelwit is om aan hierdie gesinne ‘n visstok te bied wat hulle uiteindelik in staat sal stel om self vis te vang en so in hulle eie behoeftes te voorsien.  Die Postica-gesin, wat in Roemenië woon, is ‘n gesin wat met die Sending se ondersteuning in staat was om geestelik en emosioneel te groei. Hulle het op hierdie wyse betekenisvolle treë in die rigting van selfonderhouding – hulle uiteindelike doelwit – gegee.  

Die ma, Svetlana, is ‘n huisvrou en die pa, Efim, werk periodiek op boupersele – soos en wanneer daar werk beskikbaar is. Alhoewel dit vir die ouers moeilik is om hulle tien kinders te onderhou, is dit duidelik dat die kinders ‘n ware seën vir hulle is.  Hierdie gesin het ‘n hartseer verlede met baie probleme. ‘n Ruk terug het diewe in hulle eenvoudige huisie ingebreek. Hulle het die kinders sleg behandel en Svetlana met ‘n mes gesteek. Daardie nag was ‘n nagmerrie vr die Posticas. Die aanvallers het die swaar gewonde pa bewegingloos op die vloer by ‘n emosioneel verwoesde ma en bewende, bang kinders agtergelaat.   

“Die dokters was verstom oor hoe vinnig ek herstel het, maar ek het geweet dat dit die werking van God se hand was. Hy het geweet dat my gesin my nodig het en het my so gou as moontlik genees. Hy het ons vir ons toekomstige lewe voorberei,” het Svetlana getuig. Die Gesin-tot-Gesinprogram van die Sending is ‘n seën vir die gesin. Hulle het baie gebaat by die materiële, geestelike en emosionele ondersteuning wat hulle by SSG gekry het.  

“Na die aanval het my vrou emosioneel ineengestort. Danksy die tyd wat ons met SSG se verteenwoordigers in berading, bemoediging en gebed deurgebring het, is dit vir my lekker om te sien dat my vrou dapperder is en nie meer so vreesagtig soos voorheen is nie. Sy het ook meer selfvertroue en ek is dankbaar teenoor God vir die wonderlike manier waarop Hy in my gesin werk,” het Efim deur trane van dankbaarheid getuig.   Die Postica kinders is betrokke by SSG se Bybelkorrespondensie-kursus. Die ouers doen ‘n spesiale Bybelstudie wat deur SSG se Christelike Insetpersoneel ontwikkel is, saam met die Gesin-tot-Gesin koördineerder. Hulle het God op ‘n meer intieme manier deur hierdie studies leer ken; hulle begin verstaan en ondervind waaroor Christenskap gaan; hulle het begin verstaan wat God se wil vir hulle lewens is en het Hom as die Here van hulle lewens aanvaar. Die ouers woon gereeld kerkdienste by terwyl die kinders Sondagskool toe gaan.  

Die gesin het onlangs, deur ‘n Spesiale Projek van SSG, ‘n koei ontvang. “Die koei help my om my gesin kos te gee en om smaaklike kos vir hulle voor te berei. Ek probeer nou kaas te maak om die kinders se kos af te wissel. Dit is wonderlik om ‘n koei te hê en ons is dankbaar teenoor God dat Hy vir ons een gegee het. Ons sou nooit op ons eie in staat gewees het om ‘n koei vir die gesin aan te skaf nie,” het ‘n dankbare Svetlana gesê. ‘n Ander Spesiale Projek het die Postica-gesin gehelp om ‘n kweekhuis te bou. Dit stel hulle in staat om komkommers en tamaties vir hulle eie gebruik te produseer. Hulle verkoop ook hiervan aan die bure.  

“Ons het daarvan gedroom om ‘n kweekhuis te hê en het gedink dat dit net ‘n onbereikbare droom sou bly. God se planne vir ons is egter so diep en onbekend. Hy het vir ons hulp gestuur toe ons dit die minste verwag het. Ons is verstom wanneer ons sien hoe Hy met ons gesin werk,” het Efim gesê.   Omdat hulle nie ‘n besproeiingstelsel gehad het nie, moes hulle die water fisies in emmers na die kweekhuis toe aandra om die plante nat te lei. Hulle is egter nou, deur ‘n derde Spesiale Projek, geseën met ‘n waterpomp. Hulle is baie bemoedig en voel optimisties oor hulle toekomstige produksie van komkommers en tamaties.  

“Omdat ons ‘n groot gesin is, het ek elke dag ses brode nodig. Dit is hoekom ons weet ons moet hard werk om ons self te kan onderhou. Ons moet ook in verskillende areas werk sodat ons ons eie produkte soos meel, vleis en groente kan verbou. Dit sal vir ons ‘n groot besparing wees,” het Svetlana getuig.  Alhoewel Efim allergies is vir bye, geniet hy nogtans die byeboerdery waarmee hy heuning produseer. “Ek is allergies vir bysteek maar ek hoop my liggaam sal aanpas want ek wil nie ophou om die bye te versorg en heuning te produseer nie. Heuning is goed vir ons gesondheid maar dit is baie duur by die mark. Dit is hoekom ek beplan om in die toekoms die aantal byekorwe te vermeerder,” het Efim gesê.   

Dit is wonderlik om te sien hoe gesinne soos die Postica-gesin vorder wanneer hulle ‘n helpende hand deur Gesin-tot-Gesin ontvang. Wat hulle bereik, word aangedryf deur ‘n sterk begeerte om selfonderhoudend te word – beide met God se seën en die goedgunstige ondersteuning van SSG se vrygewige Gesin-tot-Gesin-borge.  


I.M.F. Se Kommer oor Bulgaarse Armes en Behoeftiges …

January 28th, 2009

Selfs voor die onlangse, wêreldwye, finansiële debakel, het die Internasionale Monetêre Fonds groot kommer uitgespreek oor die lot van sosiale agtergeblewenes, armes en behoeftiges van Oos-Europa. Die prys van kos en energie het nou verdubbel in Bulgarye – om maar net een land te noem – en mense moet die helfte van hulle inkomste op kos spandeer om net te kan oorleef.
ʼn Derde van alle Bulgare lewe onder die broodlyn. Dit beteken dat hulle oorleef op minder as 184 leva (R1 140.00) per maand; 60% van hulle begroting word op diensterekeninge, klere en vervoer spandeer. ʼn Huishouding van vier lede het 1 884 leva (R11 932.00) ʼn maand nodig om ʼn redelike bestaan te kan voer.

Mev. Solomah is een van die mense wat ons by die Sophia Gemeenskapsentrum help. Sy was saam met haar gesin woonagtig in Kiev, Oekraïne, tydens die Tsjernobil-ramp. Haar man is baie erg geaffekteer deur die bestraling en het kort na die ontploffing gesterf. Mev. Solomah en haar kinders se gesondheid is so ernstig geraak dat sy besluit het om na Bulgarye te verhuis waar haar suster gewoon het, en daar mediese hulp te kry. Ongelukkig het haar suster ʼn jaar na hulle skuif, ook gesterf. Kort daarna is haar seun, George, met progressiewe veelvuldige sklerose gediagnoseer. Hy is totaal verlam vir die afgelope agt jaar. Dokters het onlangs ʼn breinsist by haar dogter, Henrietta, gediagnoseer en alhoewel sy geopereer is, is haar toestand besig om te versleg. Aangesien al drie gestremd is, is Henrietta – op die oomblik – die enigste een wat in staat is om na SSG se sopkombuis te kom om hulle etes te kry. Daar woon sy ook gereeld Christelike byeenkomste by. In die lig van die gesin se gesondheidsprobleme, word die meeste van hulle welsynspensioen op medikasie spandeer. Daar bly baie min oor om hulle liggame te onderhou met kos en ander benodigdhede.

Die Solomah-gesin het – net soos so baie ander Bulgaarse gesinne – nog verdere ondersteuning nodig: kos, warm klere, warm komberse en verhitting tydens die strawwe 2009 Noordelike wintermaande.

SSG gaan voort om met die hulp van ons getroue en vrygewige donateurs die lyding van duisende kinders en honderde gesinne en bejaardes te verlig deur gereeld in hulle basiese behoeftes te voorsien. Wat meer is, ons bied aan diegene wat ons help die geleentheid om die armoede kultuur en mentaliteit te oorkom; om uit te styg bo hulle omstandighede en terug te kom op hulle voete deur geloof en hoop in Jesus Christus.